fbpx

‘n Swak Geheue Kan Leer Belemmer

swak-geheueOm te kan leer, moet ‘n persoon iets wat hy waargeneem het, kan stoor om dit sodoende later weer te kan herroep. Die mens se vermoë om te kan memoriseer of onthou, maak leer dus moontlik.

Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

Verskeie navorsers het beweer dat soveel as tagtig persent van alle leer deur die oë plaasvind, wat beteken dat visuele geheue ‘n beslissende aspek van leer vorm.

Kinders, wie se visuele geheue nie goed ontwikkel is nie, vind dit moeilik om ‘n reeks visuele waarnemings te herroep. Hulle is dikwels nie daartoe in staat om vir die doeleindes van lees en spelling die globale verskyningsvorm van ‘n woord of die volgorde van letters in woorde te onthou nie. Soms mag hulle wel die letters van ‘n woord onthou, maar sal dan sukkel met die volgorde van die letters, of hulle mag dalk die eerste letter en beginstruktuur van ‘n woord ken, maar kon nie daarin slaag om die verdere detail van die woord hulle eie te maak nie. Ten gevolge daarvan het sodanige leerders dikwels ‘n beperkte sigwoordeskat en ondervind daarom ernstige probleme met lees en spelling.

Net soos in die geval van ‘n swak visuele geheue, kan ook ‘n swak ouditiewe geheue ‘n student se pogings om te leer ernstig benadeel.

Ouditiewe geheue behels die vermoë om inligting, wat mondeling aangebied word, in te neem, te verwerk, in die geheue te stoor en dan in staat te wees om dit weer te herroep. Wesenlik omvat dit die vaardighede van aandag gee, luister, verwerk, stoor, en herroep. Aangesien leerders met ‘n swak ouditiewe geheue slegs brokstukke inneem van wat gedurende ‘n klasles gesê word, kan hulle vanselfsprekend ook min begryp van alles wat deur die onderwyser gesê is. Agterna kan hulle ook min, of niks, herroep van alles wat gesê is.

Leerders met ‘n swak ouditiewe geheue sal dit dikwels moeilik vind om ‘n goeie begrip van woorde te verwerf, of om terme en inligting wat mondeling vir hulle aangebied is, te onthou, byvoorbeeld in die geskiedenis- of wetenskapklasse. Hierdie leerders sal dit ook moeilik vind om inligting, wat hulle self gelees het, te verwerk en te onthou. As ‘n mens lees, moet jy luister en die inligting verwerk wat jy aan jouself voorlees, selfs wanneer jy sag lees. As ‘n mens nie konsentreer en luister na die woorde wat jy lees nie, kan jy nie die inligting verwerk en later herroep nie. Dus, selfs wanneer iemand nie hardop lees nie, is ‘n vorm van luister nogtans betrokke.

By Edublox verbeter ons visuele sowel as ouditiewe geheue.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar