fbpx

Oorwin Aandaggebreksindroom

AandaggebreksindroomDuisende kinders word jaarliks met aandaggebreksindroom (of ADHD) gediagnoseer en dit plaas ouers voor die moeilike keuse van behandeling.

‘n Kort aandagspan, hiperaktiwiteit en impulsiewe gedrag is deel van kindwees, maar by kinders met aandaggebreksindroom het dit ‘n negatiewe invloed op hulle lewe. Hulle sukkel met konsentrasie, probleemoplossing, en fokus moeilik op take.

Daar is verskillende behandelings teen aandaggebreksindroom, bv. medikasie, voeding, neuroterugvoer-terapie, en breinoefeninge.

Medikasie

Dekades lank gebruik dokters medikasie teen aandaggebreksindroom omdat dit die brein se oordragstowwe teiken.

“Medikasie,” sê Samantha Holle, ‘n voorligtingsielkundige, “word meeste nagevors en is ‘n groot hulp vir baie pasiënte, maar dis gewoonlik ‘n swak besluit om dit eksklusief te gebruik. Ongelukkig kry mense medikasie sonder dat die sielkundige en sosiale aspekte van aandaggebreksindroom aangespreek word.”

Newe effekte in die geval van psigiatriese medikasie kan verreikende gevolge hê. “Doen navorsing oor alle aspekte rondom medikasie voor jy besluit,” sê Samantha. “’n Kind met aandaggebreksindroom het ‘n impak op die hele gesin; voorligting en ondersteuningsgroepe word ernstig aanbeveel.”

Eet reg

Sommige dokters glo daar is ‘n verband tussen aandaggebreksindroom en voedsel-allergieë, bymiddels en voedingstekorte. Volgens Dr Gerrie Lindeque bestaan data wat ‘n verband aandui tussen voeding en beide aandaggebreksindroom en die outisme-spektrum. Dr Lindeque verkies om nie medikasie voor te skryf nie, maar begin met breinvoeding en die eliminering van voedselsoorte wat moontlik skadelik is. Hy het gevind dat korrekte voeding effektief is, sonder die newe effekte van medikasie.

Volgens Dr Lindeque is lensies, bone en hawermout belangrik, omdat dit bloedsuiker reguleer. Eiers, botter, klapper, rou neute en visolie is belangrike voedingsbronne vir die ontwikkelende brein van ‘n kind. Sardyne, makriel en salm is belangrike bronne van Omega-3. “Moenie ‘n verskeidenheid kleurvolle, organiese vrugte en groente vergeet nie,” vermaan Dr Lindeque. “Onthou om vrugte met bv. neute te kombineer om die glisemiese indeks te verlaag.”

Maak seker jou dokter dra kennis van voeding en is gewillig om verskillende opsies te oorweeg, want wat vir een kind werk, werk nie noodwendig vir ‘n ander nie. Jou dokter mag jou dalk na ‘n dieetkundige wat in kindergeneeskunde spesialiseer, verwys.

Neuroterugvoer-terapie

Volgens Dr J Scholtemeyer, ‘n opvoedkundige sielkundige, is neuroterugvoer ‘n prosedure waarby breingolfaktiwiteit opgespoor en ontleed word. Die doel met neuroterugvoer of neuroterapie is om die brein te oefen, sodat ‘n gesonder breingolfprofiel verkry kan word. Dit kan breingolfaktiwiteit verhoog, wat aanleiding gee tot verbeterde aandag en konsentrasie.

Volgens hierdie benadering het mense met ADHD dikwels te veel stadige theta-breingolwe (wat verband hou met ontspanning) en nie genoeg vinnige beta-golfaktiwiteit nie (wat verband hou met verstandelike fokus). Neuroterugvoer-terapie vir ADHD het ten doel om die produksie van beta-golwe te verhoog en die aantal stadiger breingolwe te verminder.

Navorsing oor die doeltreffendheid van neuroterugvoer-terapie vir ADHD is nie deurslaggewend nie. ‘n Paar studies het positiewe resultate opgelewer, terwyl ander wetenskaplike studies baie min tot geen verbetering ten opsigte van ADHD-probleme beskryf.

‘n Wetenskaplike navorsingstudie is onlangs (2009) in Duitsland gedoen met 94 kinders tussen die ouderdomme van 8 en 12. Dr David Rabiner, ‘n kindersielkundige, se mening oor die navorsing is: “Alhoewel die verbetering beskryf word as ‘n vermindering in die belangrikste ADHD-simptome van ten minste 25 persent, het sowat 50 persent van die kinders wat met neuroterugvoer-terapie behandel is, nie met 25 persent verbeter nie. Dus het heelwat van die kinders in die navorsingsprojek nie wesenlike hulp met hierdie behandeling beleef nie.”

‘n Verdere gevolgtrekking van die navorsing is dat neuroterugvoer-terapie ‘n belangrike komponent van ‘n multi-modale behandeling program moet wees, en nie as enigste hulp aangebied moet word nie.

Breinoefeninge

Navorsing dui daarop dat leerprobleme deur breinoefeninge oorkom kan word.

“In SA weet ons lankal daarvan, maar dis ‘n relatiewe jong benadering in baie ander wêrelddele,” verduidelik Susan du Plessis, direkteur van Edublox Lees- en Leerklinieke. “In 1979 het die eerste Edublox-tuisprogram hier die lig gesien en deur die jare het dit duisende kinders gehelp om baie probleme, onder andere aandaggebreksindroom, te oorkom.”

Die doel van breinoefeninge is om onderliggende gebreke te identifiseer en te oefen. “Die brein is plasties wat beteken dat die defekte in kognitiewe vaardighede wat aandaggebreksindroom-kinders so gereeld ondervind, soos bv. volgehoue aandag, werkende geheue en probleemoplossing, oorkom kan word,” sê Susan.

“Net soos enige fiksheidsprogram saamgestel is om verskillende dele van die liggaam te oefen, bestaan ‘n les in breinoefeninge uit ‘n verskeidenheid aktiwiteite om die verskillende kognitiewe vaardighede in te oefen,” verduidelik Susan. “Areas wat deur die program aangespreek word sluit konsentrasie, prosesseringspoed, ouditiewe geheue, werkende geheue en logiese denke in.”

Navorsing wat deur Dr Lee DeLorge in Ohio gedoen is (2010), waarin sy ‘n Edublox-breinoefeningprogram met 67 leerders gevolg het, het uiters suksesvol gewerk vir 94 persent van die leerders. Vyf-en-dertig van die leerders was gediagnoseer met ADHD. Die ADHD-leerders se prosesseringspoed het gesamentlik met ‘n gemiddeld van 52.45 persent verbeter, vanaf 37.24 persent tot 89.69 persent. Kinders met ADHD is daarvoor bekend dat hulle inligting stadig prosesseer.

“Daar bestaan ook kognitiewe opleidingsprogramme op die rekenaar wat die hulp van ‘n onderwyser uitsluit, maar nie almal is effektief nie,” sê Susan. “Dit is belangrik dat ouers die verskillende programme navors voor hulle ‘n besluit neem.

“Die eksklusiewe gebruik van breinoefeninge kan ‘n suksesvolle behandelingsopsie wees.”

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar