fbpx

Ses Redes Waarom Lees Belangrik Is

4 boys readingHoe vaar jou kind met lees? Lees is een van die eerste vaardighede wat aangeleer word; ‘n vaardigheid wat dwarsdeur jou kind se lewe verreikende gevolge gaan hê.

Eenvoudig gestel, geletterdheid is die vermoë om te lees en te skryf, en die geskrewe woord te verstaan. Daar is daar ernstige gevolge vir ‘n kind wat sukkel om te lees. Dis onvermydelik: ‘n swak leser is ‘n sukkelende leerder.

Die PIRLS-studie wat in 2006 gedoen is, was daarop gemik om die leesvermoë van kinders in 40 lande te vergelyk. Lesers in Suid-Afrika het heel laaste gekom in dié opname. Slegs 13 % van ons Graad 4 lesers wat getoets was, kon die laagste aanvaarbare standaard bereik, vergeleke met 94% internasionaal.

ʼn Opvolgstudie in 2011 het bepaal dat Hong Kong wêreldwyd die beste standaard behaal het, en het getoon dat ons Graad 4-leerders “tydens ʼn makliker assessering steeds algeheel op ʼn laer vlak presteer as hulle internasionale eweknieë.”

Syfers soos hierdie is rede tot kommer. Maar hoekom is lees so ‘n belangrike vaardigheid in ons moderne eeu? Want die voordele van lees-fiksheid strek baie verder as die klaskamer.

Lees bou woordeskat

Lees help jou kind om nuwe woorde te leer en woordeskat te bou. Benewens dit, leer kinders ook beter taalvaardighede aan wanneer hulle lees. Dink byvoorbeeld aan sinskonstruksie en goeie grammatika, asook nuwe woorde wat nie deel uitmaak van die kind se alledaagse wêreld nie. Lees help kinders ook om agter te kom hoe stories geskryf word, en dit beteken dat hoe meer hulle lees, hoe beter skryf hulle. Baie vakke, veral op hoërskool-vlak, vereis dat kinders opstelle kan skryf. Dié wat goed skryf, kry vanselfsprekend beter punte.

Lees verbeter konsentrasie en help ons om te ontspan

Lees is die een tydverdryf wat altyd meer teruggee as wat mens insit: dit leer kinders beter konsentreer en hulle ontwikkel dus die vermoë om te fokus. Ons hedendaagse kinders word so oorweldig deur elektroniese toestelle se klank, lig en beweging, dat lees hulle brein eintlik ‘n ruskansie gee.



Lesers spel beter

SMS-taal dra by tot ‘n generasie wat swak spel. Lees en spel gaan hand-aan-hand, want die een ontwikkel die ander. In die hoër grade word punte afgetrek vir spelfoute, dus beteken korrekte spelling hoër punte. In die besigheidswêreld is spelfoute gewoon onprofessioneel… en onthou, die speltoets-funksie op ons rekenaars is nooit volkome korrek nie!

Lees kan ook ‘n sosiale aktiwiteit wees

Vir ouers en kinderoppassers is leestyd ‘n spesiale manier om daagliks kwaliteit samesyn met die jongspan te geniet. Boekklubs en storie-uur by biblioteke bring kinders uit alle groeperinge bymekaar. Hulle ontwikkel luistervaardighede en hulle kry die geleentheid om te vertel wat hulle gehoor het, en om hulle eie menings met ander kinders in hul ouderdomsgroep te deel.

Woorde is boustene — selfs in tegnologie

Baie van ons het gedink die ontstaan van die internet beteken noodwendig die uitsterwe van die geskrewe woord, maar eintlik het lees nou ‘n nóg groter plek in ons lewe kom inneem. Woorde is boustene wat op alle vlakke van die lewe benodig word — van ‘n brief skryf aan ‘n vriend tot die opstel van ‘n skyfie-vertoning wat deur honderde kongresgangers verstaan moet word. Lees en skryf is onontbeerlik vir kommunikasie in ons tegnologiese eeu — dink maar net aan al die e-posse wat daagliks dwarsoor die wêreld gestuur word.

Digitale toestelle speel ‘n baie belangrike rol in ons alledaagse lewe, maar ouers behoort hulle kinders aan te moedig om gedrukte boeke te lees. Digitale inligting het natuurlik voordele, onder andere dat dit ons oog-hand vaardighede opskerp, maar ‘n boek vashou en bladsye omblaai bied belangrike stimulasie vir ons kinders se tassintuig. ‘n Boek vashou en lees rig hulle fokus daarop om die inhoud te verstaan, eerder as om te sit en wonder watter beeld die volgende klik op die muis gaan voortbring.

Lees is die sleutel tot opvoeding, opleiding en ‘n kwaliteit lewe

Terwyl lees noodsaaklik is vir leer en presteer dwarsdeur kinders se skoolloopbaan en op universiteit, sal dit ook hulle lewe buite die klaskamer verryk. Entoesiastiese lesers het gewoonlik ‘n uitstekende algemene kennis. Lees is oefening vir die brein — lees méér, en jy lees al hoe beter.



 

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar