fbpx

Anker Jou Kind en Laat Haar Vlieg

Ek is Maudeen Pretorius en die trotse ma van die mooiste Blom op aarde. Op die 14e Julie 2008 word ek en my man, Braam, ouers van die mooiste donkerkop dogtertjie. Ek het na haar gekyk en besef dat my Aneen-kind my pragtigste geskenk van Bo is. Sy is nou 12 jaar oud en het my weer laat glo soos ‘n kind.

Haar onskuld ken geen perke, sy leef haar lewe voluit. Ek besef elke dag ek kan so baie by haar leer, want soos ‘n mens groot word vergeet mens soms hoe dit is om soos ‘n kind te glo en te droom. Sy is uniek en kosbaar op haar eie manier; God het haar ‘n unieke individu geskape. Ons koester dit! Ek ken niemand anders met soveel deursettingsvermoë nie.

In 2017 is Aneen met aandagafleibaarheid, disleksie en diskalkulie gediagnoseer. Dit was vir ons as ouers ‘n bitter pil om te sluk. Aneen was egter vasberade om nooit moed op te gee nie. Ons het gesorg dat sy elke skoolvakansie een of ander terapeut gaan sien opsoek na antwoorde op ons vrae. Maar … al antwoord wat ons ooit gekry het was dat Aneen nooit sou kon lees of Wiskunde doen nie. Aneen het egter elke struikelblok dapper tromp-op geloop.

Vir baie mense was die jaar 2020 ‘n riller van ‘n jaar. Dit is nie die geval vir ons nie, want God self het ingegryp. Hy het geweet dat hierdie mamma nooit haar dogtertjie sou kon wegstuur nie. Ek het besef Aneen, my Blom, kry swaar toe ons homeschooling by die huis begin doen het. Dit het my laat soek na ‘n ander alternatief en ek het Oom Google geraadpleeg. Elke keer het ek by die webtuiste van Edublox uitgekom. Ek het toe by Rika en Naas uitgekom (vreemdelinge wat familie geword het). Dus was 2020 die jaar wat ons en ons dogtertjie se lewens totaal en al verander het. Sy kon glad nie lees nie, wat nog te sê van skryf. Haar lees was geassesseer op ‘n Graad 1, eerste kwartaal vlak. Aneen was so in haarself gekeer met min selfvertroue, maar haar wil om te leer was sterker as enige iets anders. Rika van Edublox word ook nie sommer afgesit nie. Ek kon die liefde en vasberadenheid in haar sagte oë sien. Rika het verby al die dokters en terapeute se verslae gekyk en in my kind geglo.

In Junie 2020 raak my Blom deel van hierdie wenspan. Sy het my kind soos haar eie dogter aangeneem en sy het my Blom weer in haarself laat glo. Ons is gereeld op hoogte gehou van alle vordering deur middel van videos en baie foto’s.

Die 10e September was ‘n dag wat ek nooit sal vergeet nie: die eerste briefie wat ek van my dogtertjie kry in haar 12 jaar.

Aneen het ‘n maand terug huis toe gekom om vir ‘n paar dae te kuier. Ek en haar boetie van 6 jaar het die aand in die bed gelê, en ons het reggemaak om vir Kleinboet Dian Bybel te lees. Aneen het lekker styf teen my kom sit en gevra, “Mamma mag ek asseblief vanaand Bybel lees?” Ek het die Bybel vir haar gegee en sy het tussen my en Boetie kom lê. Sy het met soveel selfvertroue die Bybel gevat en sy het gelees! Dit was soos engele-sang in my ore! Ek het van blydskap gehuil, want my Blom kon lees.

In haar skoolloopbaan van 6 jaar kon niemand haar leer lees nie. Niemand het gedink sy sal ooi kan lees nie, maar Edublox (en Rika-hul se motivering) het almal verkeerd bewys. Hulle het die potensiaal in my dogter gesien en die beste geskenk aan haar gegee: die geskenk om te kan lees – en dit alles in ses maande. Aneen het tot nou die dag, toe ek en sy dorp toe gaan, vir my gevra: “Mamma, sal jy vir my ‘n storieboek koop asseblief?” Haar droom om op ‘n bed in die sonnetjie te lê en lees het waar geword.

MAAR … dit is nie hier waar die verhaal stop nie…

Aneen het begin om die Wiskunde-klasse ook by te woon (nogals in Engels). Nou kan my Blom al wiskunde ook doen. Hoe wonderlik is dit nie! Dit is ongelooflik; dit is “Super awesome”! Aneen is seker een van die grootste suksesverhale van Edublox Kimberley vir 2020.

Edublox is an amazing medium through which God works miracles in the lives of children that just want a change. I am so glad I decided to give Edublox a chance! The only thing I would change is going to them sooner to prevent things from getting as it has. I am so grateful for what Edublox has done for Aneen and our family.

Ek glo my Blom het haar wortels geanker en sy kan nou hoog vlieg om elke droom van haar na te jaag. Sy kan nou vasgeanker wees en het die vaardighede en vermoëns om ver te kom in haar lewe. Twee van die belangrikste dinge wat ek aan my Blom wou gee was wortels en vlerke. Wortels sal haar anker en die vlerke sal haar vry maak. Albei sal haar help om haar volle potensiaal te bereik. As haar Mamma het ek haar belowe ek sal altyd op een van die drie plekke wees: voor haar om haar op te kikker; agter haar “to have her back”, en langs haar, sodat sy nooit alleen hoef te wees nie. God het Aneen gemaak, Hy het geweet ek het haar nodig. Aneen, baie dankie vir jou pragtige liefde in my lewe.

Die jaar 2020 sal altyd onthou word as die jaar wat Covid alles omver kom gooi het. Die jaar 2020 is vir my … die jaar wat my kind vir niks en niemand terug gestaan het nie en gewys het dat met deursettingsvermoë ‘n mens berge kan versit. Liefde groete van ‘n “humble” en uiters dankbare Mamma.

Aneen se mamma,
Maudeen Pretorius

Share Button

Maudeen Pretorius Aneen se moeder

Skip to toolbar