fbpx

Van Gemiddeld tot Bogemiddeld tot Top-presteerder

Karla was altyd ‘n dromertjie en kon vreeslik in ‘n fantasiewêreld speel, maar ‘n intelligente kleuter wat vroeg-vroeg al haar kleure en vorms geken het en baie liedjies kon sing. Toe sy in gr.0 kom, kla die juffrou dat sy nooit ‘n taak kan voltooi nie en dat sy soms sukkel om haar aandag by iets te bepaal. Ek wonder of sy skoolgereed is en laat haar by die Universiteit van Pretoria toets. Sy doen baie goed in die toetse en op sommige vlakke toets sy tot 9 jaar vlak, al was sy toe net 5 jaar oud. Die toets word individueel uitgevoer met die toetspersoon. Hulle verseker my sy is intelligent en reg vir skool en noem terloops dat sy effe stadig werk. Na ‘n gesprek met die toekomstige hoof en die gr. 0 juffrou besluit ek om haar wel in die skool te sit.

In gr.1 word dit erger. Sy kry amper nooit haar werk klaar nie en moet gereeld inbly om dit te voltooi; juffrou kla dat sy nie aandag gee in die klas nie. Ek laat haar weereens toets by ‘n arbeidsterapeut wat verskeie ontwikkelingsprobleme identifiseer. Die arbeidsterapie begin, 1 x per week. Hulle beveel aan dat sy trampolien spring, en ek gaan koop een. Ek dwing haar om elke dag ten minste 10 minute te spring. Ons volg ‘n tuisprogram en het huiswerk op die dae wat sy nie terapie ontvang nie. En sit steeds in die middae om die onvoltooide werk van die dag te voltooi, soms neem dit 1 en ‘n half uur.

Gr. 2 word nie beter nie, want die huiswerkies word meer; al is dit steeds min werk, vat dit haar baie lank, deels omdat sy perfeksionisties is en baie detail in prentjies insit. Intussen stop ek die arbeidsterapie, wat baie vervelig word en geen verandering aan my kind se leerspoed aanbring nie. Ek het die juffrou gaan sien en verduidelik wat die probleem is en sy stuur nou maar getrou elke dag die boeke saam huis toe en dan maak ek en sy dit by die huis klaar.

Gr. 3 sit ek haar in ‘n ander skool. Ek gaan sien die juffrou met oueraand en sy kla ook dat Karla nie in die klas haar werk klaar kry nie, en baie stadig werk. Desember 2005 lees ek in ‘n Huisgenoot van kinders wat verkeerdelik gediagnoseer word met ADD en wat eintlik ‘n oogtoestand het, en dit maak vir my skielik baie sin. Al die simptome wat genoem word, het Karla ook. Dadelik bel ek die vrou in Somerset-Wes en maak ‘n afspraak vir die volgende week. Hulle toets haar en diagnoseer haar met BINOKULERE ONSTABILITEIT, wat beteken dat sy sukkel om haar fokus te hou in die klas, en dan raak sy ongeinteresseerd in die werk. Daar word oogoefeninge uitgewerk en ons kom net ‘n hele pakkasie terug Gauteng toe. Nou werk ons eers hard, want ek het gedink ons het die antwoord gekry. Oogoefening 3 x per dag. Dit was vreeslik. Na omtrent ‘n jaar vind ek uit van die Visuele Terapiesentrum in Pretoria en daar gaan ons alweer. Hulle evalueer weer en se daar is ‘n paar goed wat verbeter het maar nog baie wat nie reg is nie. Nou is dit oogoefeninge 1 x per dag en 1 x per week by die sentrum. Na nog ‘n jaar gee ek moed op. Geen dramatiese verbetering nie.

Natuurlik het almal ‘n mening wat ek moet doen van Ritalin tot leesmasjiene. Toe ek die advertensie van die leeskliniek sien, het ek dadelik gedink dit kan werk. Ek dink sy het net nie geleer om te konsentreer nie en in die groot klasopset raak sy net verlore.

Haar punte was nog die hele tyd baie gemiddeld, maar daarvoor het ons baie hard gewerk. Ek het ure met haar gesit en huiswerk voltooi in die middae. Toetsweke was ‘n nagmerrie. Ek moes alles vir haar ouditief leer omdat sy so swak gelees het. Al die storieboekies wat ek gekoop het, staan op die boekrak of ek moes dit vir haar lees.

Groot was my verbasing toe sy met haar eerste rapport hierdie jaar by die huis kom. Na die eerste paar sessies by die Leeskliniek het haar punte opgeskuif na bogemiddeld en ons het baie minder in die middae begin werk. Sy kry darem nou al haar werk vinniger gedoen en leer maklik vir haar toetse. Dit het vir my ongelooflik baie beteken. Die ander belangrike ding is dat hierdie sessies vir haar lekker is, sy sien uit om te gaan, waar sy al so moeg was van dieselfde oogoefeninge oor en oor, is hierdie iets anders en dis vir haar lekker. Sy geniet dit en dit voel nie soos terapie nie.

Baie dankie Leeskliniek vir wat julle vir Karla doen.

Hesti Geldenhuys
15 Mei 2007


Opvolg, September 2008:

Karla het aan die einde van 2007 ‘n goue sertifikaat vir akademiese prestasie ontvang.

Na 1¾ jaar jaar het ons aanbeveel dat sy die klasse staak. Sy was duidelik ‘n top-presteerder en het nie meer hulp nodig gehad nie.

 

 

Note on Karla’s photo: A stock photo was used.

Share Button

Hesti Geldenhuys Karla se moeder

Skip to toolbar