fbpx

Waarom die Klankmetode Somtyds Misluk

AEIOU, five letters of the alphabetVanweë die kompleksiteit van die geskrewe woord woed daar reeds meer as ‘n eeu ‘n debat oor die gebruik, al dan nie, van die klankmetode om elementêre lees te onderrig.

In die middel-19de eeu het sekere Amerikaanse opvoeders, veral die bekende Horace Mann, begin redeneer dat die klankmetode glad nie geleer behoort te word nie. Dit het gelei tot die algemeen gebruikte “kyk-sê”-benadering soos gebruik in die Dick and Jane-leesboeke, wat in die middel-20ste eeu gewild was. In die 1950’s het die klankmetode egter weer na vore gekom, aangespoor deur Rudolf Flesch se kritiek op die afwesigheid van klankleeronderrig — in besonder in sy gewilde boek Why Johnny Can’t Read.

Deesdae geniet die klankmetode guns in baie kringe. Hoewel daar sterk standpunt ingeneem word ten gunste van klankleeronderrig, vind baie onderwysers en ouers egter dat hulle ‘n dooiepunt bereik omdat kinders nie in staat is om die klanke te leer, en dan te lees nie.

‘n Moontlike oorsaak vir ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue. “Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem,” sê Cyndi Ringoen, ‘n kundige in breinontwikkeling, “en dit is noodsaaklik om ‘n voldoende ouditiewe korttermyngeheue te hê om met die klankmetode te leer lees, dit te kan toepas en te verstaan.”

Volgens Ringoen moet ‘n kind ‘n ouditiewe syferspan van byna ses hê om verby die memorisering van ‘n paar individuele klanke te vorder, en met die klankmetode te leer lees.

Syferspan is ‘n algemene maatstaf vir korttermyngeheue, dit is die aantal syfers wat ‘n persoon in volgorde kan verwerk en herroep nadat hy hulle gehoor of gesien het. Soos gebruiklik in korttermyngeheuetake, moet die persoon hier ‘n klein hoeveelheid inligting vir ‘n redelike kort tydjie onthou, en die volgorde van herroeping is belangrik.

Om die ouditiewe syferspan van ‘n kind te toets, sê ‘n reeks syfers in ‘n monotone stem, met intervalle van een sekonde. Sê, byvoorbeeld, 6-1-5-8 en laat die kind dit herhaal. As hy dit kan doen, sê dan 9-2-4-7-5. Die kind moet in staat wees om ‘n reeks van vier syfers met die eerste probeerslag 75 persent van die tyd korrek te kan herroep om ‘n korttermyngeheuespan van vier te hê, en dieselfde geld vir elke syfer wat bygevoeg word.

Afhangende van hoeveel oefening en drilwerk hulle gehad het, sal kinders met ‘n syferspan onder ses in staat wees om al die klanke van die foneme te sê, en moontlik ‘n paar bymekaar kan sit in woorde. Maar aan die einde van die sin of paragraaf sal hulle waarskynlik nie in staat wees om te verstaan wat hulle nou net gelees het nie.

“Om daarop aan te dring om ‘n kind met die klankmetode te leer lees voordat hy op ontwikkelingsvlak gereed is, veroorsaak baie frustrasie en moeitevolle geswoeg vir kind en ouer. Fokus eerder daarop om jou tyd en energie te wy aan die uitbreiding van die kind se ouditiewe korttermyngeheue,” stel Ringoen voor.

By Edublox verbeter ons leerders se leervaardighede, insluitend hulle ouditiewe geheue — korttermyn sowel as langtermyn.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar