fbpx

Wenke teen Boelies

Skoolboelie

Hierdie rubriek is gepos op MaroelaMedia.co.za op 20 April 2016:

Hallo Susan,

My graad 5-seun het eintlik nog nooit goed gedoen op skool nie. Hy is met ADHD gediagnoseer omtrent twee jaar gelede en hy gebruik Concerta. Hoewel ons nie meer so baie klagtes van sy onderwysers kry nie, het ons nog nie eintlik ‘n noemenswaardige verskil in sy skoolwerk agtergekom nie; hy lees en spel gewoon net nie so goed soos sy klasmaats nie, om van die wiskunde nie eers te praat nie.

Ek weet nie of sy gesukkel op skool sy selfvertroue tot so ‘n mate geknak het dat hy deesdae nie kan opstaan vir homself nie. Om dinge erger te maak, is daar hierdie jaar ‘n regte boelie in sy klas wat hom uitkryt vir ‘n “sissie” en hom gedurende pouses fisies terroriseer. My man en ek voel magteloos om die situasie te hanteer. Ons vrees is dat, indien ons met die hoof hieroor gaan praat, dit ons seun nog meer soos ‘n “sissie” sal laat voel. Intussen het sy belangstelling in sy skoolwerk nog verder agteruit gegaan en ek sidder as ek dink aan die gevolge.

Hoe hanteer ons hierdie dubbele bekommernis?

Gerda


Hello Gerda

Dankie vir jou epos. Baie kinders is die een of die ander tyd die slagoffer van ‘n boelie, daarom is ek seker dat baie ouers met jou situasie sal identifiseer en simpatiseer. En, ja, daar is moontlik ‘n groot stuk waarheid in jou aanname dat sy probleme met sy skoolwerk sy selfvertroue geskaad het; en wanneer mens se selfvertroue laag is, is dit natuurlik nog moeiliker om jouself teen ‘n boelie te verweer.

Beide jou seun se skoolwerk en julle bekommernis oor die boeliery moet so gou as moontlik aandag kry.

Ek het onlangs eposse van ouers beantwoord waarin ek verduidelik het wat ‘n ouer kan doen om te help met lees, spel en wiskunde.

So, kom ons vat vervolgens die boeliekwessie vas.

In die ou dae het baie ouers hulle seuns geleer om terug te slaan. “Weerbaarheid” het beteken om te kan boks wanneer iemand met jou moeilikheid soek. Dit werk egter nie meer vandag nie. Die oog-vir-‘n-oogbeginsel is onaanvaarbaar en ons moet na ander opsies kyk.

Wat is ‘n boelie?

‘n Boelie het ‘n sekere profiel. Ons kry die outjies wat ander fisies boelie deur hulle hare te trek, te slaan, te byt of selfs oormatig te kielie.

Die emosionele boelie vertel skinderstories oor sy slagoffer, sal hom/haar afpers, geld afneem of sommer net terroriseer.

Verbale boelies is afbrekend weens aanhoudende geterg, verbale dreigemente, kru taal, rassistiese opmerkings en/of neerhalende briewe, teksboodskappe of e-posse.

Ons sien ook boelies wat ‘n skynbare behae daarin skep om ander neerbuigend aan te kyk, gesigte te trek of lelike gebare te maak.

Jou rasionele boelie sal iemand met opset ignoreer of uitsluit uit aktiwiteite, of ander manipuleer om die slagoffer te minag, of hy/sy sal iemand probeer domineer.

Seksuele boelies sal ekhibisionisties wees, seksuele teistering uitoefen en mishandeling of aanranding pleeg.

Hoewel daar ooreenkomste is tussen boeliery en ander vorms van aggressie, lê die verskil daarin dat boelies daarop uit is om ander te viktimiseer om beheer oor sy slagoffer te kry en sodoende sosiale status te bekom. Boelies val sonder rede aan.

Maar wat nou gedoen as dit jou kind is wat die slagoffer word?

Wenke teen boelies

Boelies smag na mag. Een van die redes waarom hulle gewoonlik redelik lank wegkom met hulle aggressiewe gedrag, is juis omdat kinders nie maklik erken dat hulle geboelie word nie.

Praat met jou kind oor sy gevoel teenoor sy onderwysers. Is daar ‘n onderwyser van wie hy hou? Bemagtig jou kind deur hom aan te moedig om die boeliery te rapporteer by die onderwyser(es) wat hy vertrou. Verduidelik aan hom die verskil tussen “stories aandra” en wangedrag rapporteer, sodat hy weet wat hy doen is nie “stories aandra” nie.

Dis belangrik dat jou kind sal verstaan die boelie is die een met die probleem; dis die boelie wat verkeerd optree, nie jou kind nie.

Maak seker julle praat elke aand oor sy dag se ervarings — die goeie en die slegte.

Boelies smag na reaksie. Leer jou kind hy ontneem die boelie sy pret deur nie terug te slaan, skop, byt of watookal nie. Geen direkte reaksie is die heel beste wapen. Verduidelik aan jou kind die gevaar van terugbaklei, naamlik dat hy kan seerkry, en self ook in die moeilikheid kan beland. Kinders verstaan die beginsel van “two wrongs never make a right”.

In haar hantering van boeliery, beveel selfbeeldafrigter Janine Shamos (Truter, 2012) aan dat ons boekhou van die boelie se gedrag. Maak dus aantekeninge wanneer jou kind praat oor sy slegte ervarings met die boelie. Dit kan handig te pas kom wanneer die saak hanteer moet word.

Leer jou kind om met selfvertroue op te tree. Liggaamshouding het baie hiermee te doen. Dis ook belangrik dat jou kind die selfvertroue sal hê om die boelie direk aan te spreek deur byvoorbeeld vir hom te sê: “Hou op! Jy maak my seer.” Jou kind kan dan regop en vasbeslote wegstap in die rigting van ander kinders of volwassenes.

Probeer die boelie vermy. Mens hoef nie te gaan wegkruip nie, maar dit is ook nie nodig om alleen in die boelie en sy makkers se omgewing te wees nie.

In baie gevalle ontneem dit die boelie sy pret as die ander kind eenvoudig maak asof hy hom nie hoor nie, maak asof hy die boelie nie raaksien nie, asof die boelie nie bestaan nie.

Gerda, boelies sukkel oor die algemeen nie sommer met kinders wat duidelik seker is van hulself nie. Dink daaraan om julle seun vir selfbeeldafrigting te stuur. So ’n afrigter kan ook vir jou kind konflikstrategieë aanleer, waarby hy dwarsdeur sy lewe baat sal vind.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies


Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ‘n opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ‘n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ‘n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 495 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

Bronverwysing:

Truter, S. 2012. Hoe gemaak met my dikmond kind en nog 99 vrae wat ouers pla. (Kaapstad: Tafelberg).

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar