fbpx

Hoe om Jou Letters in Gelid te Kry: Navorser Ontwerp Program vir Disleksielyers

Building blocksHierdie artikel het verskyn in Rapport op 30 September 2007. Deur Johan Nel

‘n Leermetode wat oor die afgelope dertig jaar deur ‘n Suid-Afrikaanse opvoedkundige navorser ontwikkel is, is deesdae besig om wêreldwyd skoolkinders uit die verlammende greep van disleksie te verlos.

Dr. Jan Strydom van Pretoria se Audiblox-leermetode het talle suksesverhale tot sy krediet.

Werner Louw, ‘n jong Pretoriase argitek, het sewentien jaar gelede vasgevang gesit in die greep van disleksie. In 1990 het toetse gewys dat Werner, wat in daardie stadium in gr. 10 was, oor die leesvermoë van ‘n gr. 2-leerling beskik. Skoolgaan was vir hom ‘n nagmerrie.

Nadat hy twee jaar lank in gr. 3 vasgeval het, is bevind hy ly aan minimale breindisfunksie. Hy is na ‘n skool vir kinders met leerprobleme oorgeplaas en moes vir die derde keer gr. 3 herhaal.

Sy ma, me. Nellie Louw, vertel Werner het ‘n IK van 148, maar sy leesspoed was slegs 107 woorde per minuut. Hy het aan erge depressie en ‘n minderwaardigheidsgevoel gely.

Werner se ouers het in Maart 1990 besluit om Strydom se program vir Werner aan te skaf. Hulle was eers baie skepties, maar vyf maande later was Werner se leesvaardigheid dié van ‘n gr. 9-leerling en sy leesspoed was 163 woorde per minuut.

Elf maande nadat Werner met die program begin het, was sy leesvermoë op die vlak van ‘n tweedejaar-universiteitstudent, met ‘n leesspoed van 230 woorde per minuut. Sy lewe het handomkeer verander.

“Ek is daarvan oortuig dat miljoene skoolkinders onnodig ly omdat volwassenes nie wil erken dat die metodes wat hulle gebruik om leerprobleme te probeer uitskakel, niks werd is nie,” sê Strydom. “Daar moet dringend anders na leerprobleme gekyk word.”

Volgens hom is die leerproses in wese ‘n kommunikasieproses. Op die oomblik aanvaar opvoedkundiges dat indien ‘n leerprobleem die kommunikasieproses laat misluk, lê die fout by die leerling. Kommunikasie loop egter meestal skeef omdat daar fout is met die manier waarop die boodskap oorgedra word.

“My navorsing het my oortuig dat daar veral twee belangrike beginsels in die leerproses is waarna glad nie gekyk word wanneer die oordra van kennis nie slaag nie. Die eerste is dat die mens slegs kan doen dit wat hy vooraf geleer is om te doen. Die tweede beginsel is dat kennis laag op laag opgestapel word,” sê Strydom.

Hy meen die mens kan niks doen wat hy nie vooraf geleer is om te doen nie, behalwe al sy liggaamsfunksies en reflekse, soos om asem te haal, te sluk en jou oë te knip. Daarom beskou hy nie ‘n kind met ‘n leerprobleem, soos ‘n gebrek aan konsentrasie, as disfunksioneel of gestremd nie, maar as iemand wat iets nie weet nie.

Die tweede beginsel, dat leer ‘n proses met verskeie lae is, is iets wat almal weet, maar tog word dit in die geval van leerprobleme heeltemal oor die hoof gesien.

Alle opvoedkundige stelsels gaan van die veronderstelling uit dat ‘n kind by die laer vlakke van kennis begin en langsamerhand boontoe beweeg. Jy moet eers leer om te tel voordat jy kan leer om op te tel en af te trek.

“‘n Kind wat nie eers geleer het om te tel nie, sal nie kan optel en aftrek nie. ‘n Kenner van sogenaamde leerprobleme sal egter in so ‘n geval maklik besluit dat die kind aan minimal breindisfunksie ly, terwyl die eenvoudige waarheid dat jy eers moet leer om te tel voordat jy kan optel en aftrek, heeltemal geïgnoreer word.”

Strydom se leerprogram word deesdae wêreldwyd gebruik deur leerlinge wat met leer- en leesprobleme worstel. Dit is ‘n program wat kognitiewe vaardighede help ontwikkel en is gemik op die ontwikkeling van leerlinge se konsentrasievermoë, persepsie, geheue en logiese denke. Dit word met groot sukses deur begaafde en minder begaafde kinders van alle ouderdomsgroepe gebruik om hul lees-, spel-, skryf en wiskundevaardighede te verbeter.

Prof. E.J. van Nierkerk van Unisa sê Strydom se navorsing bring antwoorde op vrae oor leer- en leesprobleme waarmee lankal geworstel word. Die program is volgens hom revolusionêr en briljant, maar terselfdertyd ook eenvoudig en maklik om te gebruik.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar