fbpx

Help, My Kind Het Disleksie (Deel 1)

Child hates readingDaar is min dinge wat by ‘n ouer soveel spanning veroorsaak as ‘n kind wat sukkel met lees, spel en skryf. Terwyl die meerderheid kinders dit maklik tot redelik maklik baasraak, is dit ’n heeltemal ander ervaring vir ten minste een uit elke vyf kinders. Vir hulle is dit so moeilik dat die woord “disleksie” dikwels ingespan word om na hierdie erge gesukkel te verwys.

Die term disleksie is saamgestel uit twee Griekse woorde dys en lexis wat letterlik “swak met taal” beteken, en word gebruik om te verwys na iemand vir wie lees eenvoudig bokant hulle vuurmaakplek is. Spel en skryf, as gevolg van die nou verband wat dit met lees het, word gewoonlik hierby ingesluit.

Hierdie kinders, wat die gesproke woord verstaan en dikwels so lief daarvoor is om na stories te luister, sukkel om dieselfde woorde te ontsyfer wanneer dit op papier staan. Hulle lees stadig en hakkelrig, en woorde wat hulle skynbaar maklik lees in een sin, lees hulle verkeerd in die volgende sin. Hardoplees is ‘n worsteling. Uiteindelik raak hulle gefrustreerd en teleurgesteld.

Lees is onontbeerlik vir akademiese sukses. Onderwysers, wat sien hoe die gaping tussen goeie lesers en swak lesers in hulle klas groter word, vra hulself af wat hulle of die leerders verkeerd doen. Ouers, deeglik bewus van die verreikende negatiewe gevolge wat leesprobleme dwarsdeur al die ontwikkelingsfases het, se gemoed kan soms wissel van skuldgevoelens tot woede.

Wat is disleksie?

Die outydse (en dalk nog gewilde) siening is dat disleksie ‘n fisiese versteuring in die brein is wat veroorsaak dat inligting verkeerd verwerk en vertolk word, wat dan lei tot lees-, spel- en skryfprobleme. Histories is die disleksie-etiket toegeken aan leerders met ‘n gemiddelde tot ‘n bo-gemiddelde IK, en ten spyte van “voldoende” leergeleenthede ‘n ernstige leesagterstand het. Minder-begaafde kinders se leesprobleme is toegeskryf aan hulle intellektuele beperkinge.

Dan is daar spesifieke simptome:

  • Omkering van letters soos b en d of p en q, of lees of skryf byvoorbeeld tak vir kat of sak vir kas.
  • ‘n Ander teken is weglatings — wanneer ‘n kind “staf” lees of skryf wanneer die woord eintlik “straf” is.
  • Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees of skryf byvoorbeeld emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
  • Lees klein woordjies verkeerd byvoorbeeld ‘n vir nie, vir i.p.v. van, met vir meer.
  • Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
  • Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
  • Probeer die letters van die woord klank maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal byvoorbeeld die letters ‘k-a-t’ klank, maar dan koud sê.
  • Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
  • Verkort woorde byvoorbeeld porsie vir proporsie.
  • Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
  • Lees met swak begrip.
  • Onthou nie veel van wat gelees is nie.
  • Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
  • Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.

Ongeneeslik of ‘n mors van tyd?

Die uiteenlopende standpunte oor disleksie maak dit vir ouers moeilik om te weet wat die regte manier is om hulle kind te help. Aan die een kant is daar die groep wat glo disleksie is ’n onomkeerbare toestand wat nie genees kan word nie en bloot aanvaar moet word, terwyl daar andere is wat reken die diagnose van disleksie is ’n mors van tyd.

Volgens die Britse Disleksie Assosiasie word mens met disleksie gebore en is die uitwerking daarvan lewenslank. Díe vereniging, en baie ander, se aanbeveling is dat ‘n disleksie-toets — met koste — gedoen moet word, en hulle gee raad oor hoe om daarmee saam te leef en watter stappe gedoen moet word om toegang te kry tot spesiale studietoelae en ook voordele wat vir gediagnoseerde disleksielyers beskikbaar is.

Volgens party skrywers is die vooruitsigte vir dislektici bloot verdoemend, en word die gaping tussen goeie lesers en kinders met disleksie net al hoe groter. Skrywers noem dit die Matteus-effek, verwysend na Matteus 25:29 wat sê dat die rykes ryker sal word en die armes armer. Volgens hierdie siening — ons haal aan uit ‘n boek van Amerikaanse opvoedkundige sielkundige Gerald Coles — “sal die lees- en ander leerprobleme waarskynlik voortduur tot in volwassenheid, met vernietigende gevolge vir die persoon se gevoelens van eiewaarde, persoonlike verhoudings, en werksgeleenthede en -prestasie”.

Om bewustheid vir disleksie te kweek — en waarskynlik ook lig te skyn oor hierdie sombere siening van ongeneeslikheid — het ondersteuningsgroepe die idee verkoop dat vele beroemde mense, onder andere Albert Einstein, dislekties was. Die storie is soveel keer herhaal dat dit vandag as ‘n feit beskou word ten spyte daarvan dat die literatuur dit weerlê.

Dit word dikwels beweer dat Einstein eers op die ouderdom van vier begin praat het, wat dan ‘n “teken” van sy disleksie was. Volgens Einstein se biografieë is dit eenvoudig nie waar nie. Toe Einstein twee en ‘n half jaar oud was is sy nuutgebore suster Maja aan hom gewys. Einstein, wat ‘n speelding verwag het, het teleurgesteld gesê, “Maar waar is haar wieletjies?” Toe hy sewe jaar oud was, skryf sy ma: “Gister het Einstein sy rapport gekry. Hy was weer eerste in sy klas. Sy rapport was briljant.” Teen die ouderdom van nege en ‘n half was Einstein aanvaar deur die kompeterende Luitpold-Gymnasium, wat bewys dat hy akademies bo-gemiddeld presteer het. Op ouderdom dertien het Einstein boeke, geskryf deur Darwin en Kant gelees. Dis beslis nie verteenwoordigend van dislektici nie.

Professor Julian Elliott van Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk en Professor Elena Grigorenko van Yale Universiteit in die VSA sien disleksie uit ‘n ander oogpunt, naamlik dat die diagnose daarvan eintlik maar min waarde het. In hulle boek, The Dyslexia Debate skryf Elliott en Grigorenko: “Ouers word mislei deur aannames dat ’n disleksie-assessering streng wetenskaplik is, en dat ‘n diagnose sal aandui watter vorm van behandeling die beste sal wees.” Elliott is bekommerd oor die immer stygende aantal mense wat met disleksie diagnoseer word. Disleksie, reken Elliott, is ‘n term wat laat vaar moet word aangesien dit, volgens hom, meer verwarring as duidelikheid veroorsaak.

Nuwe navorsing bring nuwe hoop

Die siening dat disleksie ongeneeslik is, is die gevolg van ‘n aanname dat die brein nie kan verander nie, laat staan nog verbeter. Mense het geglo as daar iets verkeerd is met ‘n persoon se brein, daar niks gedoen kan word om dit reg te maak nie. Wetenskaplikes het geglo dat elkeen van ons gebore word met ‘n vasgestelde aantal breinselle, en as enige van daardie selle seerkry, kan die skade nie herstel word nie. G’n wonder dat leerprobleme soos disleksie, wat met die brein te doen het, vir baie jare as ongeneeslik beskou was nie!

Gelukkig weet ons vandag van beter.

Tegnologiese vooruitgang soos fMRI-skanderings het dit vir wetenskaplikes moontlik gemaak om te sien dat die brein plasties is; die brein kan verander en verbeter, en dis baie goeie nuus vir jou kind! Op grond van die nuutste navorsing KAN elke kind gehelp word!

Ons gesels volgende keer verder oor die fantastiese plastiese brein, en hoe neuroplastisiteit die lig aan die einde van die donker disleksie-tonnel is.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar