fbpx

Leesprobleme: Van Oorsaak tot Oplossing

Children reading at parkDie meeste kinders sien daarna uit om te begin lees. Lees is ’n proses waarvolgens hulle leer om abstrakte krabbels te sien as betekenisvolle letters, daarna klanke, dan woorde en uiteindelik sinne en paragrawe. Lees verteenwoordig ’n kode-stelsel: die alfabetiese stelsel. ‘n Groot aantal kinders is daartoe in staat om dié kode na ’n jaar se skoolgaan te ontsyfer, maar vir ten minste een uit elke vyf kinders is dit ’n heeltemal ander ervaring.

Lees, wat vir ander maklik is, is vir hulle eenvoudig net bokant hulle vuurmaakplek. Hierdie kinders, wat die gesproke woord verstaan en so lief daarvoor is om na stories te luister, sukkel om dieselfde woorde te ontsyfer wanneer dit op papier staan. Hulle lees stadig en hakkelrig, en woorde wat hulle skynbaar maklik lees in een sin, lees hulle verkeerd in die volgende sin. Hardoplees is ‘n worsteling. Uiteindelik raak hulle gefrustreerd en teleurgesteld.

Lees is koning in die klaskamer; dis onontbeerlik vir akademiese sukses. Onderwysers, wat sien hoe die gaping tussen goeie lesers en swak lesers in hulle klas groter word, vra hulself af wat hulle of die leerders verkeerd doen. Ouers, deeglik bewus van die verreikende negatiewe gevolge wat leesprobleme dwarsdeur al die ontwikkelingsfases het, se gemoed kan soms wissel van skuldgevoelens tot woede.

Vind die oorsaak en jy vind die oplossing

Meeste probleme kan slegs opgelos word wanneer ons weet wat die oorsaak daarvan is. Skeurbuik het die lewens van duisende seemanne op lang seereise geëis totdat daar uitgevind is dat dit veroorsaak word deur ’n gebrek aan vitamiene C. Die regte vertrekpunt waar dit kom by lees, sal dus wees om te vra, Wat veroorsaak leesprobleme?

“Ten einde te verstaan wat leesprobleme veroorsaak,” sê Susan du Plessis, Direkteur van Opvoedkundige Programme by Edublox, “moet ons verstaan dat leer ’n laagsgewyse gebeure is. Een vaardigheid moet eers vasgelê word voor ons ’n daaropvolgende vaardigheid kan baasraak. Dis soos met ’n leer opklim: sportjie vir sportjie, anders val jy.

Taal is die eerste sportjie

Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca…… As jy nie eers die taal Indonesies geleer het nie, is daar nie ’n manier waarop jy hierdie Indonesiese sinnetjie gaan verstaan nie. Dit wys vir ons dat taal op die heel onderste sport van die leer is. Ons kan die rol van taal in lees vergelyk met hardloop in sokker. Mens kan nie sokker speel as jy nie kan hardloop nie. Insgelyks kan mens nie lees as jy nie die spesifieke taal goed ken nie.

Indien ’n kind se kennis van Afrikaans swak is, sal hy sukkel om dit te lees. Sonder doeltreffende opleiding om sy Afrikaans te verbeter, sal sy leesvermoë nie ontwikkel nie.



Die tweede sport

Sokker bestaan uit baie uiteenlopende vaardighede ― skop, uitgee, dribbel, kopskote ens. Voordat ons van ’n kind kan verwag om aan die spel deel te neem moet hy eers leer om die bal te skop, uit te gee, te dribbel en kopskote uit te voer. Dit is presies dieselfde met lees. Kognitiewe vaardighede, soos visuele – en ouditiewe prosessering en ouditiewe geheue, wat die basis van lees vorm, moet eers aangeleer word.

Visuele prosessering is een van die mees belangrikste kognitiewe vaardighede en verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Visuele prosesseringsvaardighede sluit die vermoë om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, kleur, vorms, grootte en posisie in die ruimte in. Laasgenoemde verwys na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te kan bepaal. ’n Persoon met ’n ruimtelike oriënteringsprobleem sal dit moeilik vind om tussen die letters b en d, en soms ook n en u te onderskei.

Ouditiewe prosessering sluit ouditiewe diskriminasie in. Dit verwys na die vermoë om ooreenkomste en verskille in klanke te onderskei. Ouditiewe sintese is die vermoë om individuele klanke saam te voeg om ’n woord te vorm. Kinders met hierdie probleem mag bv. sukkel om die verskillende klanke in ’n woord soos /k-a-t/ saam te voeg, selfs al ken hulle die individuele foneme.

Ouditiewe geheue is belangrik vir klankleer

Cyndi Ringoen, ’n kundige in breinontwikkeling, sê swak ouditiewe korttermyngeheue is baie keer die oorsaak daarvan dat kinders ’n onvermoë het om volgens die klankmetode te leer lees. Die klankmetode is ’n ouditiewe stelsel en dit is baie belangrik dat voldoende ouditiewe korttermyngeheue beskikbaar is om met die klankmetode te leer, toe te pas wat geleer is en gevolglik te verstaan wat ons lees.

Volgens Ringoen moet ’n kind ’n ouditiewe syferspan van om en by 6 hê om met die klankmetode te kan leer lees. Syferspan, ’n algemene maatstaf vir korttermyngeheue, is die aantal syfers wat ’n persoon kan inneem, herroep en weergee in die korrekte volgorde as wat hy dit gesien of gehoor het.

Die ouditiewe syferspan van ’n kind kan getoets word deur syfers stadig in ’n monotone stem met tussenposes van een sekonde te sê en die kind dan te vra om dit te herhaal, bv. 6-1-5-8. Indien die kind daarin slaag, herhaal die toets met 5 syfers, bv. 9-2-4-7-5. ’n Kind moet daartoe in staat wees om ’n reeks van 4 syfers met die eerste probeerslag 75% van die tyd korrek te kan herroep om ’n korttermyn geheuespan van 4 te hê, en dit geld vir elke syfer wat bygevoeg word.

Behalwe ouditiewe reeksgeheue is daar ander geheuevaardighede wat ook belangrik is vir lees nl. visuele geheue, langtermyngeheue en werkende geheue.

Wat ouers kan doen

Die ergste wat ouers kan doen wanneer hulle agterkom hulle kind het ’n leesprobleem, is om niks te doen nie, sê Dr Sally Shaywitz, ‘n neuro-wetenskaplike. Indien jy dus enige van die onderstaande tekens opmerk (sien “Tekens van ‘n leesprobleem”), praat eerstens met jou kind se onderwyser. Shaywitz deel ’n paar wenke vir ’n produktiewe gesprek met die onderwyser:

• Maak eers ’n lysie van dit wat jy by jou kind waarneem en waaroor jy bekommerd is. Soms is ouers so gespanne wanneer hulle met die onderwyser praat dat hulle vergeet waaroor hulle nou eintlik bekommerd was. Die onderwyser sal so ’n lysie waardeer.

• Maak ’n formele afspraak om met jou kind se onderwyser te praat; hierdie gesprek gaan sy/haar volle aandag verg.

• Doen navraag na jou kind se vordering met lees; kry al die inligting en maak seker jy verstaan hoe die kinders se leesvordering getoets word.

• Vra in watter leesgroep jou kind is, op watter vlak daardie groep se leesvermoë is, asook hoe die groep se leesvaardighede met die ander groepe in die klas en in die graad vergelyk.

• Vra die onderwyser watter vordering hy/sy vir jou kind voorspel met die oog op die end van die jaar.

Neem onmiddellik aksie

Indien jou kind sukkel om te leer lees, is die heel beste aanslag om onmiddellik iets daaraan te doen. Vyf en negentig persent van kinders wat sukkel om te lees kan tot op graadvlak vorder indien hulle voldoende hulp vroegtydig ontvang. Hoe langer jy wag, hoe moeiliker gaan dit vir jou kind wees om in te haal.

Leeskonsultant Susan Hall moedig ouers aan om hulle intuïsie te vertrou. Susan sê sy het al menige ouer hoor sê dat hulle vroeg reeds aangevoel het daar is ’n probleem, maar toegelaat het dat ander mense hulle oortuig om te wag. Hierdie ouers was later spyt oor die verlore maande of jare toe hulle besef het hoe belangrik tydsverloop is waar dit kom by die ontwikkeling van leesvaardighede.

Du Plessis gee ouers wat ’n organisasie moet kies om hulle kind te help met leesprobleme die volgende wenke:

• Laat jou kind assesseer, maar begroot verstandig. Assessering is die eerste stap; jou begroting moet jou kind kan help.

• Woon die eerste afspraak met ’n kritiese houding by en vra vrae soos, “Watter metode gaan aangewend word om my kind te help? Op watter teorie berus hierdie metode? Kan julle bewys lewer dat julle metode suksesvol is?”

• Moenie op rekenaarprogramme steun om jou kind se leesvermoë, spoed en begrip te verbeter nie. Navorsing het bewys dat rekenaar-leesprogramme nie leesprobleme oplos nie.

• Maak seker jy kry waarde vir jou geld. Die tutor of terapeut moet nie tydens jou kind se lesse oproepe beantwoord of die vertrek verlaat om te gaan kyk wat op die stoof aangaan nie.

• Assesseer die hulp wat jou kind kry. Jy moet merkbare resultate sien en uiteindelik ’n verbetering in sy skoolwerk begin waarneem. Indien dit nie jou ervaring is nie, is die metode dalk nie geskik vir jou kind nie.

• Wanneer jou kind tot ’n goeie leser gevorder het, gebruik dan rekenaartegnologie om sy kennis te verbreed en om hom te leer spoedlees.

Tekens van ‘n leesprobleem

• Omkering van letters soos b en d of p en q, of lees bv. tak vir kat of sak vir kas.
• Plaas letters in die verkeerde volgorde en lees bv. emelent vir element, snik vir niks, en tekel vir ketel.
• Lees klein woordjies verkeerd bv. ’n vir nie, vir i.p.v. van, met vir meer.
• Raak gedisoriënteerd met ’n reël of op ’n bladsy terwyl hy lees, mis reëltjies of herhaal wat reeds gelees is.
• Hardoplees is hakkelrig, woord-vir-woord, monotoon.
• Probeer die letters van die woord klank maar kan dan nie die korrekte woord sê nie. Sal bv. die letters ‘k-a-t’ klank, maar dan koud sê.
• Spreek woorde verkeerd uit, of plaas klem op verkeerde lettergrepe.
• Verkort woorde bv. porsie vir proporsie.
• Weglating van voorvoegsels, weglating van agtervoegsels of byvoeging van agtervoegsels.
• Lees met swak begrip.
• Onthou nie veel van wat gelees is nie.
• Kan nie die regte letter by ’n gegewe klank pas nie.
• Ignoreer gereeld leestekens, laat punte en kommas uit.


Edublox spesialiseer in opvoedkundige hulp wat kinders slimmer maak, hulle help om vinniger te lees en te leer en om wiskunde met vertroue aan te pak. Ons programme stel leerders daartoe in staat om leesprobleme en leerversperrings te bowe te kom sodat hulle lewenslank kan leer en sodoende bemagtig word om hulle hoogste opvoedkundige doelwitte te bereik.

 

Share Button

2
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
1 Thread replies
352 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
2 Comment authors
admincoezette Janse van rensburg Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
coezette Janse van rensburg
Guest
coezette Janse van rensburg

My child is 8 years old. She are struggling at school she can’t read. She is in Gr 1 the school and Dr ‘s did recommend it to us. She is remembering everything but can’t read.

Skip to toolbar