fbpx

Om Op Skool Te Presteer

Hierdie artikel het verskyn op Netwerk24 op 26 November 2015:

Net voordat die skoolvakansie regtig begin, is daar ’n oomblik van waarheid wanneer ouers hul kind se jaareinde-skoolrapport ontvang.

Susan du Plessis, Edublox se Direkteur van Opvoedkundige Programme, sê dat dit vir alle ouers van die uiterste belang is om te weet waarna om te kyk wanneer jy jou kind se skoolrapport lees, ongeag die finale punt wat ’n kind ontvang. Vir sekere ouers was dit nog nooit ’n bekommernis nie, want hulle is vol vertroue dat hul kind na die volgende graad bevorder sal word, maar vir ander is dit ’n tydperk van intense angstigheid.

Ouer, oppas hoe jy op die rapport reageer

Du Plessis sê dat die wyse waarop ouers oor die skoolrapport reageer ’n belangrike rol kan speel in hoe hul kind die volgende jaar presteer.

Sy moedig ouers aan om gehaltetyd opsy te sit om met hul kind sy akademiese vordering in 2015 te bespreek en om akademiese doelwitte vir 2016 te stel. Dit moet verkieslik nie gedoen word wanneer die finale resultate ontvang word nie en ook nie in Januarie wanneer dit al te laat is nie.

Stel ’n plan in werking

Daar is gemoedsrus vir ouers wat weet dat hulle ’n gestruktureerde plan ingestel het om hul kind te help om sy volle potensiaal te bereik, hetsy dat die kind ’n gemiddeld van 75% handhaaf en 90% behaal, of om vir die volgende jaar slegs elke vak te slaag.

Kan jou kind goed sien?

Indien ’n kind swak gepresteer het, word aanbeveel dat hy ’n leestoets ondergaan.

Du Plessis sê dat leestoetse net so belangrik soos oogtoetse en gehoortoetse is.

Om lees te toets, is ’n nuttige manier vir ouers om uit te vind of hul kind visuele of ouditiewe prosesseringsprobleme het, wat anders is as om ’n sig- of gehoorprobleem te hê.

As ’n kind sukkel om akkuraat te prosesseer wat hy lees, lê die probleem nie in sy oë nie en kan die probleem dus nie met ’n bril opgelos word nie.

Kan jou kind goed hoor?

So ook kan ’n ouditiewe prosesseringsprobleem nie met ’n gehoorapparaat reggestel word nie.

Ontwikkeling van kognitiewe vaardighede is noodsaaklik om die brein se vermoë om inligting akkuraat te prosesseer, te verbeter.

Tipiese simptome van visuele of ouditiewe prosesseringsprobleme is die omkeer van letters, om jou plek te verloor terwyl jy lees of om te sukkel om individuele klanke saam te voeg in ’n woord, soos k-a-t.

Vermy aanlyn- of gerekenariseerde leestoetse.

Wees op die uitkyk vir ’n deeglike leestoets wat jou sal help om geskikte en beproefde strategieë te vind om jou kind se leerprobleme op te los.

Oppas vir ekstra klasse

Du Plessis waarsku dat ekstra klasse wat kurrikulum-gebaseerde ondersteuning bied, nie leerprobleme wat deur ’n tekort aan kognitiewe vaardighede veroorsaak word, kan regstel nie.

Die hersiening van verskillende aspekte van ’n vak kan slegs gedoen word nadat die dieperliggende probleme deur kognitiewe vaardigheidsontwikkeling reggestel is. Aandag, prosessering, geheue en redenering is fundamentele vaardighede wat in plek moet wees voordat enige vak voldoende verstaan kan word.

Is jou gr. 1-kind regtig skoolgereed?

As jou kind in 2016 graad 1 gaan begin, gaan jy nie net moet seker maak dat hy die regte skoolklere en skryfbehoeftes het nie, maar ook of hy gereed is vir hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe. Kinders wat graad 1 betree, behoort oor die taalvaardighede en woordeskat te beskik om te leer lees en spel.

Hulle behoort aanwysings te kan interpreteer, van ’n bord te kan afskryf, verbale aanwysings te kan volg en goed te kan tel.

Fyn motoriese vaardighede soos knip met ’n skêr, die oorteken van eenvoudige vorms en inkleur is fundamenteel vir skryf.

Is jou kind op leesstandaard voor gr. 4?

Graad 3 is die finale jaar van wat bekend staan as die grondslagfase.

Du Plessis sê as jou kind gr. 3 in 2016 begin, is dit die laaste jaar om werklik seker te maak dat sy lees op peil is voordat hy gr. 4 begin wanneer die vakinhoud en werkslading aansienlik toeneem.

Dit is makliker om ’n kind te help om sy leerprobleme in gr. 3 te oorkom, voordat hy gr. 4 bereik.

Gr. 4 is die deurslaggewende jaar vir ouers om te verseker dat hul kinders oor effektiewe studiemetodes beskik.

Die opvoeding in Suid-Afrika is anders

Ouers wie se kinders met gemak slaag, moet in gedagte hou dat sulke uitslae nie noodwendig voldoen aan internasionale standaarde nie.

Du Plessis sê voorts dat leerders wat ’n gemiddeld van 60 tot 70 in Suid-Afrika handhaaf, moontlik nie die graad in ander lande sal slaag nie.

In Suid-Afrika mag jou kind dalk geringe sukses behaal het, maar hierdie is plaaslike standaarde en kan nie internasionaal vergelyk word nie.

Leer jou kind selfstandigheid

In die eerste paar jaar van laerskool is ouers baie aktief betrokke by hul kinders se akademiese ontwikkeling, en sal tyd saam met hulle deurbring om te luister hoe hulle hardop lees of hulle help om hulpbronne op te spoor vir skoolprojekte.

Ten einde ’n kind ten volle te laat vorder, moedig Du Plessis ouers aan om geleidelik huiswerkondersteuning te verminder.

Teen gr. 6 behoort ’n kind ten volle toegerus te wees met die regte gesindheid om verantwoordelikheid vir sy eie akademiese sukses te aanvaar en om onafhanklik aan skoolprojekte te kan werk.

Du Plessis sê dat dit die ideaal is dat enige leerprobleme teen gr. 6 opgelos is omdat daar in hierdie stadium van kinders verwag word om onafhanlike leerlinge te wees.

Toppresteerders het ook uitdagings

Du Plessis sê dat ouers van kinders wat presteerders is, ook ’n rol het om te vervul. Hierdie kinders vereis addisionele uitdagings en verryking.

Dit is nie net gedurende die skooltermyn noodsaaklik nie, maar ook gedurende skoolvakansies.

Du Plessis sê dat skaakklubs, spelkompetisies en lees-kunswedstryde addisionele stimulasie aan leerlinge bied wat gereeld toppresteerders in hul klas is.


Edublox is voorlopers in kognitiewe ontwikkeling met 22 lees- en leerklinieke regoor Suidelike-Afrika.

Edublox bied multisensoriese kognitiewe opleiding gemik daarop om die fundamentele vaardighede van lees, spel en wiskunde te ontwikkel en te outomatiseer. Besoek www.edublox.co.za of kontak 0861-EDULOX / 0861 338 256 vir meer inligting oor Edublox.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar