fbpx

Praat Jou Kind Slim

lig2
Die meeste ouers kan skaars wag vir hulle baba om sy eerste woorde te sê. Dit gebeur gewoonlik tussen nege maande en ‘n jaar. Vanaf omtrent twee jaar behoort hy sy eerste sinne te begin gebruik en teen drie jaar behoort hy reeds vol sinne te begin praat. Teen die ouderdom van vier behoort hy heeltemal goed te kan praat, alhoewel hy nog bepaalde grammatikale foute mag begaan. Teen vyf behoort hy basiese taalvaardigheid te hê.

Hierdie artikel het verskyn in Lig tydskrif, Des 2009/Jan 2010. DEUR LISEL KRIGE

Dit maak nie saak of jou kind se eerste woordjie mamma of pappa of dalk baba of doe-doe is nie. Dié woord(e) is sy eerste treetjies na latere sukses ― op alle terreine. Jou kind se taalontwikkeling kan bepaal met hoeveel gemak hy deur die lewe se leerprosesse sal beweeg: pre-primêr, die skoolfase, tersiêre vlak én daarna. Om die waarheid te sê: Die hoeveelheid taal waaraan jy jou kind blootstel, kan bepaal of hy “slim” gaan wees of nie.

As ma wat tien kinders grootgemaak het, het Letitia van der Spuy geglo dat kommunikasie met haar kinders van uiterste belang is ― van die héél begin af. Van die geboorte van haar babas af het hierdie opgeleide onderwyseres gedurig, en met elkeen, gesprekke gevoer. Op dié manier het sy die maksimum reaksie by hulle uitgelok. So het elkeen reeds lank voor sy/haar eerste verjaarsdag, ‘n omvattende woordeskat gehad ― in sowel Afrikaans as Engels! Terwyl sy nét Engels met hulle gepraat het, het haar man weer nét Afrikaans gepraat ― en die kinders het in die onderskeie tale gereageer, sonder om die tweede te vermeng.

Dit het ook nie by praat gebly nie. Daar is vir die kleintjies liedjies en rympies geleer, stories gelees en van vroeg reeds blootstelling gegee aan opvoerings, rolprente en klankopnames van byvoorbeeld kinderstories.

Die Van der Spuys het die vrugte op hulle moeite gesien en geniet. Op skool was al die kinders presteerders en hulle het deurgaans van die beste uitslae in hulle onderskeie grade behaal. Sederdien het almal gegradueer. Hulle is ook nou self ouers van kinders aan wie se ontwikkeling hulle waarde wil toevoeg met onder meer vroeë taalontwikkeling.

Sleutelmylpaal

“Daar is min twyfel daaroor dat taalontwikkeling een van die sleutelmylpale in vroeë kinderontwikkeling is,” sê me Susan du Plessis, hoof van die Edublox Lees- en Leerkliniek. “Baie van ‘n kind se toekomstige sosiale en intellektuele ontwikkeling hang van hierdie mylpaal af. ‘n Taalagterstand kan isolasie tot gevolg hê en daartoe aanleiding gee dat die kind homself onttrek. Leerprobleme en swak akademiese prestasie is ook noodwendige gevolge.”

Sy vertel navorsing het bewys dat daar ‘n noue verband tussen gesproke taal en spesifieke leerprobleme (soos disleksie) is. Volgens prof Beve Hornsby, skrywer van Overcoming Dyslexia, het 60% van disleksieselyers láát begin praat.

Hoewel baie ouers glo dat die woord taalontwikkeling beteken dat die aanleer van taal ‘n natuurlike of outomatiese proses is, is dit nié die geval nie. “Daar is niks wat enige mens weet of kan doen wat hy nie (aan) geleer het nie. Dit is veral waar van taal,” sê Susan. “’n Kind begin van sy geboorte af om taal (aan) te leer. Ouers moet dan reeds ‘n behoorlike fondament lê, sodat die kind taalvaardighede kan verwerf.”

Hoe werk dit?

As ouer behoort jy met jou baba te begin praat… van die dag dat hy of sy gebore word! Dit is nie vir almal ewe maklik nie. Miskien is jy stil en teruggetrokke van geaardheid, of jy dink dalk dit is belaglik om met ‘n pasgebore baba te praat. Susan waarsku egter dat die ma wat nie aanhoudend met haar baba praat terwyl sy hom voed, bad of aantrek nie, die oorsaak kan wees dat haar kind laat praat.

Sy sê: “Die baba leer taal net op één manier aan en dit is deurdat sy ouers met hom praat. En praat. En praat. Hoe meer ouers met hulle kinders praat en voortdurend dieselfde woorde, dieselfde sinsnedes en dieselfde strukture herhaal, hoe gouer sal die kind taalgebruik aanleer.”

Hoewel ‘n kind gewoonlik reeds op ongeveer nege maande (selfs vroeër as hy gretig is om te “kommunikeer”) ‘n paar woordjies magtig is, moet jy onthou dat hy veel meer verstaan as wat hy kan sê. “En dit bly dwarsdeur jou lewe die geval,” sê Susan. “Jy verstaan altyd meer van ‘n taal as wat jy met spraak of skrif kan weergee ― selfs jou sogenaamde eerste taal.

“Ons het twee min of meer afsonderlike brokke taalkennis: ons passiewe kennis en ons aktiewe kennis. Wanneer ons luister of lees, maak ons gebruik van ons passiewe woordeskat. Wanneer ons praat of skryf, gebruik ons ons aktiewe woordeskat.”

Dit is belangrik om te onthou dat die kind se passiewe woordeskat aangroei as gevolg van herhaling. Sodra ‘n woord, ‘n sinsnede of ‘n taalstruktuur genoeg herhaal is, word dit deel van die aktiewe woordeskat.

Volgens prof Hornsby is daar gevind dat ‘n kind wat net begin leer om te praat, ‘n woord ongeveer 500 keer moet hoor voordat dit deel van sy aktiewe woordeskat sal word. Lank voor hierdie tyd sal dit reeds deel van sy passiewe woordeskat wees.

Laag-op-laag

Volgens Susan is leer ‘n proses wat in lae gebeur. Dit kan aan die hand van ‘n sportsoort soos yshokkie verduidelik word: Voordat jy yshokkie kan speel, moet jy eers leer om baie goed te skaats ― vorentoe en agteruit ― en om binne ‘n oogwink te kan stop of van rigting te verander. Eers wanneer jy hierdie vaardighede so goed bemeester het dat hulle as’t ware outomaties gebeur, is jy gereeld om al die ander elemente van yshokkie te bemeester.

Soos yshokkie ‘n verskeidenheid vaardighede vereis, is daar ook ‘n verskeidenheid vaardighede wat een na die ander, laag-op-laag, aangeleer moet word en wat as voorvereiste vir lees en leer dien.

Moenie van lees vergeet nie!

Ouers moet so dikwels moontlik vir hul kinders lees, selfs as hulle nog heel klein is. Volgens die kundiges sal jy taalontwikkeling maksimaal stimuleer deur dieselfde storie(s) oor en oor en oor voor te lees en vir jou kind rympies te leer. Dit is bewys dat hoe meer kleuterrympies ‘n kind op driejarige ouderdom ken, hoe beter sal sy leesvermoë wees.

Susan sê: “Lees is die belangrikste vaardigheid wat ‘n kind op skool moet verwerf, want hy leer om te lees met ‘n bepaalde doel voor oë ― sodat hy kan lees om te leer. Om behoorlik te kan lees (en natuurlik ook skryf en spel) is dus die grondslag van ― of voorvereiste vir ― leersukses op skool. Dit is uiteindelik ook ‘n belangrike bepaler van ‘n mens se toekomstige beroepsukses.


Wat is Edublox?

“Edublox Lees-en-Leerkliniek se missie is om kinders se leervermoë, maar veral hulle leesvermoë, te verbeter, sodat hulle die genot van prestasie kan smaak.

“Ons is reeds 30 jaar in die bedryf. Die programme, metodes en tegnieke wat ons gebruik, is die resultaat van gesamentlike meer as vyf dekades se intensiewe navorsing oor leer.

“’n Terapeut kan nie ‘n kind met ‘n lees- of leerprobleem help sonder om oor ‘n in-diepte kennis van leer te beskik nie. Hoe meer jy dus van leer weet, hoe makliker word dit om ‘n kind met lees- en leerprobleme te help.

“By Edublox hanteer ons die oorsake van lees- en leerprobleme, nie die simptome nie. Verbeterde lees- en leervermoë lei tot beter skoolprestasie terwyl die leerder se selfbeeld gebou en sy selfvertroue bevorder word. Ons skep ‘n basis vir lewenslange leer.” ― Susan du Plessis

Share Button

2
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
1 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
2 Comment authors
Susan du PlessisRina Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Rina
Guest
Rina

My kleinkind is al 5 en praat name swak. Sy is by n spraakterapeut Maar die goed wat sy met haar doen maak geeen vordering nie. Asb hoe kan ek haar help. Weet nie waar om te begin nie. Het julle n program wat ek by die huis met haar kan volg asb?

Susan du Plessis
Admin

Goeie dag Rina, Ek “copy” vir jou ‘n artikel wat ek lank terug geskryf het. Wat jy nodig het om te doen, word volledig beskryf. Groete Susan HOW TO OVERCOME A LANGUAGE PROBLEM Di dunia kini kita, tiap orang harus dapat membaca… Unless one has first learned to speak Bahasa Indonesia, there is no way that one will be able to read the above Indonesian sentence. Language plays a vital role in reading. Its role in reading can be compared to the role of running in the game of soccer or ice-skating in the game of ice hockey. One cannot… Read more »

Skip to toolbar