fbpx

Vrae oor Konsentrasie, van Babadae tot Skooldae

Onderwysers kla deesdae oor swak konsentrasie. Dink jy dit is ‘n probleem wat toeneem?

Die onvermoë om te konsentreer is op baie onderwysers en ouers se lippe. Diagnoses word gemaak, baie navorsing word gedoen en almal hoop dat dit hul kinders gespaar sal bly.

Kognitiewe vaardighede lê die fondasie vir lees, spel, wiskunde en leer. Wanneer ons ʼn huis bou, maak ons seker dat die fondasie baie goed gelê word, voordat ons voortgaan met verdere konstruksie. Konsentrasie is ʼn noodsaaklike kognitiewe vaardigheid wat by kinders aangeleer moet word. Deur kognitiewe oefeninge op ʼn weeklikse basis te doen, word kinders se fondasie vir leer gebou, wat konsentrasie insluit. Konsentrasie is nie ʼn gegewe nie en kinders word nie daarmee gebore nie. Vir baie kinders is kognitiewe ontwikkeling die sleutel tot beter konsentrasie wat ook prestasie in lees, spel, en wiskunde bevorder.

Opleiding in kognitiewe vaardighede by Edublox is verfyn met ʼn kombinasie van oefeninge, tutor-gebaseerde opleiding in klein groepies, en toepassing in die vorm van lees- en skriftelike oefeninge. Die oefeninge vereis dikwels dat leerders meer as een kognitiewe vaardigheid gelyktydig aanleer. ʼn Oefening wat byvoorbeeld ruimtelike en visuele geheuevaardighede asook konsentrasie vereis, is om ʼn presiese weergawe te bou van ʼn reeks gekleurde blokkies nadat ʼn voorbeeld daarvan verwyder is. Omdat Edublox multisensories is, moet studente ook na die beskrywing van ʼn patroon luister en die patroon bou nadat hulle dit gevisualiseer het.

Alles wat kinders op skool leer en doen, verg volgehoue konsentrasie vir minstens 20 minute, sowel as die vermoë om dan weer op dieselfde ding te herfokus.

Kan ouers reeds van kleins af aan hul kinders se konsentrasie werk en indien wel, hoe vroeg en hoe?

Opvoedkundige speletjies soos legkaarte is ʼn baie goeie manier om reeds van ʼn vroeë ouderdom af jou kind se konsentrasie se stimuleer. Mammas en pappas moet die tyd uitkoop om aktiwiteite saam met hul kinders te doen. Dit wakker die lus by die kind aan, die konsentrasiespan vergroot en dit is kwaliteit-tyd saam met ouers.

Wat is jou wenke vir beter konsentrasie by kinders? 

Dis belangrik om te verstaan dat ‘n mens niks kan doen as jy dit nie geleer is nie. ‘n Kind word gebore met ‘n paar reflekse en moet alles leer, van loop tot praat. Net so is konsentrasie ‘n vaardigheid wat geleer en ontwikkel moet word.

  • Verwag van babadae af dat jou kind vir kort rukkies op iets moet konsentreer en rek die tye geleidelik. Jou baba het ‘n aandagspan van net 2 sekondes, maar teen 6 jaar moet jou kind minstens 20 minute lank kan konsentreer.
  • Laat jou kind ‘n ouderdomstoepaslike legkaart bou. Dit moenie te moeilik wees nie. As sy aandag begin dwaal, moedig hom aan om ‘n bietjie langer aan te hou.
  • Lees stories en maak dit geleidelik langer.
  • Laat jou kind gereeld buite speel. Studies toon kinders wat baie buitespeeltyd het, kan beter konsentreer as huisgebonde kinders.

Hier is ʼn paar wenke vir leerders tydens huiswerksessies of voorbereiding vir eksamen:

  • Pak die mees uitdagende projekte aan wanneer jou verstand op sy helderste is.
  • Wees positief en vertel jouself dat jy die opdrag kan behartig.
  • Studeer idealerwys alleen sodat ander mense nie jou konsentrasie onderbreek nie.
  • Wees in die regte gemoedstoestand. Skuif al jou bekommernisse en dinge wat jou aandag aflei opsy, soos byvoorbeeld deur dit neer te skryf sodat jy later daaraan aandag kan skenk.
  • Sny eksterne aandagafleidings soos die TV of radio wat in die agtergrond speel uit. Bêre jou selfoon.
  • Beplan wat jy gaan doen voordat jy studeer. Navorsing toon dat dit op sigself jou konsentrasie met 200% – 400% kan verhoog.
  • Stel duidelike, konkrete doelwitte – byvoorbeeld, hoeveel somme of bladsye geskiedenis jy gaan bemeester.
  • Studeer vir 30 – 40 minute op ʼn slag.
  • Voordat jy na die volgende vak gaan, lees nog net een bladsy. Dit is soos om nog een opstoot te doen om jou konsentrasie tot op die maksimum perk te stoot en te verbeter.
Wanneer weet jy jou kind het regtig ‘n konsentrasieprobleem? 

Daar is verskillende tipes konsentrasie waarmee kinders probleme kan ondervind.

Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.

’n Derde tipe wat baie belangrik is, ‘n woord wat min mense ken: verdeelde aandag. Verdeelde aandag is jou vermoë om jou aandag te kan verdeel tussen twee of drie of selfs meer take. Dis amper soos “multi-tasking” maar die waarheid is dat ons nie eintlik kan “multi-task” nie, want daar is ‘n bottelnek in die brein wat dit verhoed. Wat ons wel kan leer doen is om ons aandag te verdeel. ’n Goeie voorbeeld hiervan is wanneer jy saans TV kyk terwyl jy aandete eet, of wanneer jy bestuur terwyl jy praat met jou passasier. ’n Onderwyser is ook heeltyd besig met aktiwiteite wat verdeelde aandag vereis: sy skryf byvoorbeeld ‘n som op die bord en terselfdertyd verduidelik sy dit verbaal. Die kind moet dus sy aandag verdeel tussen dit wat sy skryf en dit wat sy sê.

Navorsing het bevestig dat daar ‘n duidelike verband is tussen leesprobleme en leemtes in verdeelde aandag.

ʼn Swak geheue is dikwels die sondebok van leerprobleme, eerder as swak konsentrasie. As ʼn kind byvoorbeeld sukkel om van die bord af te skryf in hul werkboek, sukkel hulle dalk eerder met visuele geheue as met konsentrasie. ʼn Kind wat sukkel om instruksies te onthou sukkel ook dalk eerder met ouditiewe geheue as met konsentrasie.

Sukkel jou kind met leer? Kontak jou naaste Edublox-tak vir ‘n formele assessering en hulp.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar