fbpx

‘n Lewe met Disleksie

Disleksie artikel HG‘n Artikel oor disleksie het in die Huisgenoot van 16 Januarie 2014 verskyn; die eerste bladsy volg hieronder:

Dit verg harde werk, maar ouers kan hul kind help lei tot sukses op skool.

Op ‘n weekmiddag gee Branden se ma hom dié opdragte: Haal jou kosblik uit jou tas, bêre jou skoene en gooi jou klere in die wasgoedmandjie. Ná 10 minute loer sy by sy kamer in en daar sit hy steeds in sy uniform.

“Branden was altyd in die moeilikheid by die huis omdat ek gedink het hy luister nie. Ek sou sommer dadelik dink hy is net lui,” vertel sy ma, Annemarie Brooks van Pretoria. Boonop het die toe sewejarige Branden dikwels swak gedragsrapporte by die skool gekry en sy maats het hom gespot omdat hy nie kon lees of spel nie.

Aan die einde van gr. 2 is Branden se ma en pa, Phillip, in kennis gestel day hy swak vaar: Hy ruil sy b’s en d’s om, hy kan nie spel nie, sy konsentrasie is baie swak en hy sukkel om links en regs van mekaar te onderskei. Hy sou gr. 2 moes herhaal.

“Hy wou nie meer skool toe gaan nie,” sê Annemarie. “Hy het gesê hy wens hy was dood sodat hy nie meer so moet sukkel nie.”

Branden was nie lui nie. Hy het dieselfde probleem gehad as onder andere Orlando Bloom, Steven Spielberg, Keira Knightley en Jamie Oliver: Hy was dislekties.

Dié diagnose het sy ouers aanvanklik ontstel, maar hulle het dadelik gaan hulp soek. Branden het vier weke lank ‘n intensiewe remediërende kursus by Edublox in Pretoria geloop en daarna 10 maande lank een maal per week ‘n uur lange klas bygewoon. Dié kursus het onder meer oefeninge ingesluit om sy konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke te help ontwikkel. Annemarie en Phillip het ook daaglikse oefeninge gekry om met hul seun te doen.

Aan die einde van daardie jaar het sy punte merkwaardig verbeter. “Hy ruil nog syfers om en spelling bly ‘n uitdaging, maar Branden, wat nou 11 word, het van ‘n eensame kind in ‘n gelukkige seun verander.”

Wat is disleksie?

“Disleksie is nie ‘n gestremdheid nie; dit is bloot ‘n onvermoë wat verband hou met die vaardighede wat lees en spel beïnvloed,” verduidelik Susan du Plessis van Edublox in Pretoria.

Vaardighede soos konsentrasie en die vermoë om wat jy sien te interpreteer, waarop lees en spel gebou word, is nie behoorlik ontwikkel nie. Een uit elke 10 Suid-Afrikaners ly aan disleksie, wat beteken dat sowat 5 miljoen mense in skole en in die werkplek met dié leer- en leesprobleem sukkel.

Mense het lank verkeerdelik geglo die brein is onveranderlik en dat disleksie daarom ongeneeslik is. Hoewel daar nie ‘n kuur is nie, kan iemand deur terapie geleer word om die probleem te oorkom. “As die oorsaak van die probleem aandag kry, kan disleksie oorkom word,” sê Susan.

Die oorsaak is dikwels ‘n gebrekkige ouditiewe en visuele geheue, met ander woorde die kind sien of hoor die woord, maar sukkel om dit te onthou. Ouers kan maklike oefeninge met hul kinders doen om dié vaardigheid te ontwikkel.

In uitsonderlike gevalle waar die agterstand baie groot is, kan dit help om ‘n dislektiese kind in ‘n spesiale klas of skool te sit. “Dit moet verkieslik net ‘n tydelike maatreël wees tot die leervaardighede, lees en spel op standaard is.”

Dis ‘n wanopvatting dat dislektiese mense dom of lui is, en dié negatiewe stigma moet afgebreek word. “Die negatiewe etiket laat die kinders dikwels ‘n slagoffermentaliteit aanneem, en hulle voel dan heeltemal hulpeloos,” verduidelik Susan…

Share Button

1
Leave a Reply

avatar
1 Comment threads
0 Thread replies
0 Followers
 
Most reacted comment
Hottest comment thread
1 Comment authors
Venita Recent comment authors
  Subscribe  
newest oldest most voted
Notify of
Venita
Guest
Venita

Soek so so graag hulp vir my dogtertjie. Maar ek het baie wys geword uit julle artikel. Baie dankie.

Skip to toolbar