fbpx

Lees Vir Sommiges ‘n Nagmerrie

Scrabble TilesHierdie artikel het verskyn in die Vaalweekblad op 25 Mei 2011:

VANDERBIJLPARK ― Vir talle boekwurms is ‘n koue wintersdag en warm koppie sop sinoniem met die lees van ‘n tydskrif of goeie roman. Vir 25 persent van die wêreld se bevolking, die disleksielyers, bly hierdie plesier net ‘n droom, want letters maak nie vir hulle sin nie.

Dr. Jan Strydom van die Sentrum vir Disleksie asook ‘n internasionale skrywer en doktor in opvoedkunde, meen ‘n kind se studies tydens sy skoolloopbaan word geskoei op lees en leer.

“Eers leer die kind om te lees. Dan lees hy om te leer. Lees is dus van kardinale belang in die opvoedingsproses, maar vir disleksielyers, vir wie letters net nie sin maak nie, kan dit ‘n ernstige agterstand beteken,” sê dr. Strydom. Volgens statistiek kan sowat 25 persent van die wêreld se bevolking as dislekties beskou word.

Ten minste een uit elke tien mense, wat andersins heeltemal bekwaam is, het ernstige disleksie-probleme. ‘n Taalprobleem soos disleksie bring mee dat so ‘n persoon ‘n drastiese inkorting in lewensgehalte ervaar.

“Dit vonnis enige mens tot ‘n lewe van eensaamheid in ‘n wêreld vol mense en stroop hom van alle gevoelens van selfvertroue en eiewaarde,” sê dr. Strydom.

Onlangse neurologiese bevindings dui daarop dat, hoewel daar aanwysbare gebiede met bepaalde funksies in die brein voorkom, dit nogtans so is dat breinselle verander en gebruiksareas verskuif deur te leer.

Leer bring vermeerderde breingroei mee, terwyl die afwesigheid daaraan tot ‘n gebrek aan breingroei lei.

Navorsing deur Baylor College of Medicine het bevind dat kinders wat in erge isolasie grootword, met gebrekkige taalblootstelling en met min aanraking en sosiale interaksie, se breine tussen 20 en 30 persent kleiner is as die norm vir hul ouderdom.

Dr. Strydom sê voorts dat dit kan beteken dat die antwoord op die raaisel van disleksie nie in die brein geleë is, soos wat vir so lank geglo is nie. “Die oorsaak van ‘n persoon se disleksieprobleem is dus nie inherent tot die persoon nie. Die rede vir sy onvermoë is slegs dat hy tot dusver nog nie aan die regte leerervaring blootgestel is nie.

Logieserwyse is die oplossing dus daarin geleë om hom nou aan sulke ervaringe bloot te stel,” sê dr. Strydom.

Identifiseer Disleksie Só

“‘n Kind wat nog nie geleer tel het nie, sal nooit geleer kan word om op te tel en af te trek nie. Net so is daar bepaalde vaardighede wat die leerder eers moet bemeester voordat dit moontlik is om te leer lees.”

So verduidelik dr. Jan Strydom van die Sentrum van Disleksie. Volgens dr. Strydom kan ouers disleksie in hul kind herken deur op die volgende te let:

Omkerings, byvoorbeeld wanneer die kind sukkel om in lees en skryf die letters b en d uitmekaar te ken en weglatings, soos wanneer die kind “kat” lees as die woord “krat” is.

Kinders wat weining onthou en min begryp van wat hulle lees, kan ook disleksie hê.

Ander aanduidings is ‘n stadige en/of swak handskrif.

Dr. Strydom meen dat ‘n kind met ‘n swak taalvermoë noodwendig swak sal lees.

“Dit is dus van uiterste belang dat ouers hul babas van so vroeg moontlik aan soveel taal as moontlik blootstel,” sê hy.

Dr. Strydom voel voorts dat ouers hul kinders nie moet toelaat om na willekeur televisie te kyk nie, omdat dit ‘n passiewe kommunikasiemedium is. Hy beveel aan dat kinders se televisie-kyktyd in die week beperk moet word sodat hulle hulself met meer konstruktiewe bedrywighede kan besig hou.

Enige ouer wat vermoed dat sy kind disleksie het kan Mev. Marietha Maree, die Vaaldriehoek verteenwoordiger van die Sentrum vir Disleksie, skakel.

Share Button

Leave a Reply

avatar
  Subscribe  
Notify of
Skip to toolbar